Christiaan Rudolf de Wet

Is op 7 Oktober 1854 op ‘n plaas tussen die later Dewetsdorp en Smithfield gebore en in 1922 in dieselfde omgewing oorlede.

Op 19 het Christiaan met Cornelia Margaretha Kruger getrou en hulle sou uiteindelik 16 kinders hê. Dat De Wet ‘n rustelose siel gehad het, blyk uit die talle male wat hy met sy gesin na nuwe plaas verhuis het.

Generaal Christiaan de Wet is die mees legendariese van alle Afrikanermilitariste. Hy het die kuns van guerrilla-oorlogvoering soos min mense voor of na om geïmplementeer. Daarvoor het hy geen militêre opleiding gehad nie, maar wel ‘n leeftyd waarin hy naby aan die veld geleef het en die landskap besonder goed leer ken het. De Wet se genialiteit het daarin gelê dat hy die Engelse keer op keer kon ontduik.

Voor die Tweede Vryheidsoorlog het hy reeds ‘n bydrae as leier op plaaslike vlak gelewer. Die verloop van die oorlog het hom wêreldwye roem besorg. Belangriker as dit was dat hy mede-Boere besiel het met ‘n bereidheid om die vryheidstryd Voort te sit. Hoewel sy deelname aan die Rebellie meer omstrede as sy deelname aan die oorlog was,het sy bereidheid om sy eie belange ondergeskik aan die vryheidstryd te stel, bewondering afgedwing.